Hantering van Angsversteurings

Ofskoon medikering van pasiënte nie onderspeel moet word nie, toon navorsing dat terapie in meeste gevalle die beste vorm van behandeling is aangesien dit meer as die simptome aanspreek. Tydens terapie word kliënte bygestaan om onderliggende oorsake vir hulle angste en vrese te ondersoek, te leer hoe om te ontspan, hoe om op nuwe maniere na hul uitdagings te kyk en aanpassende probleemoplossende vaardighede te ontwikkel.

Die duur van behandeling vir angs-steurings wissel na gelang van die tipe angs-steuring, maar aldus die ‘American Psychological Association’ (APA), is die behandelingstyd ongeveer 10 sessies.

Die DSM-IV verdeel angsversteurings in: Veralgemeende angsversteurings (GAD), Paniekversteuring (met en sonder agorafobie), Obsessief kompulsiewe versteuring(OCD), Sosiale fobie, Spesifieke fobies en PTSD.

Kognitiewe Gedragsterapie -‘Cognitive behavioural therapy’ (CBT) is die mees algemene terapeutiese benadering en fokus op verandering van negatiewe denkpatrone en hoe daar gevolglik opgetree kan word wanneer ‘n individu met sy angste en vrese gekonfronteer word.

Tydens CBT, ‘Eye Movement Desensitization and Reprocessing’ (EMDR) en Hipnoterapie is ek kliënte behulpsaam met die evaluering en aanpassing van moontlike ‘disfunksionele denke’ deur die gebruikmaking van hoofsaaklik drie stappe, naamlik:

  1. Identifisering van negatiewe gedagtes.
  2. Uitdaging van hierdie negatiewe gedagtes.
  3. Vervanging van die negatiewe gedagtes met realistiese gedagtes.

CBT mag soms ook die volgende insluit:

  • Leer hoe om die angstigheid te herken en hoe dit voel in sy liggaam.
  • Aanleer van hanteringsvaardighede en ontspanningstegnieke.
  • Konfrontering van die vrese (realisties of onrealisties).

CBT sluit dikwels blootstellingsterapie in waar die kliënt aan sy vrese blootgestel word en nie toegelaat word om daarvan weg te vlug nie. Die kliënt word geleidelik meer aan die objek/situasie wat vrees veroorsaak blootgestel (sistematiese desensitisasie) totdat aanvaarbare vlakke van gemak bereik word.

Ander tegnieke wat komplimenterend en in samehang met CBT gebruik word sluit die volgende in:

  • Gereelde fisiese oefening
  • Aanleer van ontspanningstegnieke
  • Bio-terugvoer
  • Hipnose

Huidige statistiek

In ‘n artikel deur die ‘Health Systems Trust’ (21 Oktober 2016), word die volgende stelling aangehaal: “Worldwide, psychiatric illnesses will rise to be the number one cause of disability within the next 15 years, according to the World Health Organisation (WHO)”.

In dieselfde artikel meld Winnie de Rover van die ‘Mental Health Information Centre’ aan die Universiteit van Stellenbosch, dat tussen 1 en 3 % van Suid-Afrikaners met Geestes-ongesteldhede presenteer waarvoor hulle gehospitaliseer moet word. Sy meld verder dat tussen 70% en 90% verbetering en opheffing van hul simptome kan ervaar deur ‘n goeie kombinasie van behandeling met medikasie en psigo-terapie.

Enkele ander statistiek rondom die voorkoms van Psigiatriese versteurings in SA word in verskeie bronne aangehaal. Dit blyk dat ongeveer 1 uit elke 4 volwassenes (25%) deur die loop van hul lewe met een of ander versteuring sal presenteer, waarvan 45% met meer as een diagnose presenteer. Dit was verder betekenisvol in van die studies dat die mees algemene versteuring wel Alkohol misbruik is en by 11.4% van hierdie volwassenes voorgekom het.

Literatuur rondom voorkoms van Psigiatriese versteurings in Suid-Afrika asook in lande soos Amerika, toon aan dat Depressie, Angsteurings, Alkohol-misbruik, Bipolêre versteurings en Skisofrenie die mees algemene versteuring is wat deur gesondheidsdienste behandel word. In Amerika word aangetoon dat van persone ouer as 18 jaar ongeveer 18.1% persone met angs-steurings in ‘n bepaalde jaar gediagnoseer word.

Hierdie tendens word sekerlik ook in SA ervaar. Soos in artikels aangedui is angsversteuring se prognose uitstekend, indien daar intervensies op beide mediese en psigologiese terreine plaasvind.