
Emigrante, Vlugtelinge en Assielsoekers – Wat van die Kinders?
Met die groot polemiek en openbare diskoers rondom die Suid-Afrikaners wat onlangs na die VSA verhuis het, is daar in ons elkeen se gemoed meer vrae as antwoorde. Òf jy wil gaan, en of jy wil bly, punt is: Daar is reeds 2 groepe wat sak-en-pak Amerika toe verhuis het om vir hulself ’n beter (veiliger?) toekoms te gaan soek.
Mens veronderstel dat die volwassenes in hierdie ruimte, deeglike oorweging geskenk het aan al die faktore wat so ’n groot skuif uit jou Vaderland na ’n onbekende vreemde tot gevolg mag hê.
Die impak wat hierdie besluite op hulself, maar veral op hul kinders sal hê, sal sekerlik jare van nou sigbaar word, maar hier en nou, kan ons ’n oomblik stilstaan en oorweeg wat ons kan doen om die kinders in hierdie situasie se emosionele welstand te bestuur en te beskerm. Hoe kan ons help om die aanpassing vir hierdie kinders minder traumaties en gemakliker te maak?
Oor die afgelope meer as vyftien jaar in sielkundige praktyk, met spesifieke fokus op die emosionele, sielkundige welsyn van kinders, werk ek met kinders en jongmense met verskillende tipes trauma, en ek het gevind dat die traumatiese effek op kinders, in die proses van verhuising, dikwels onderskat word.
In die geval van hierdie groot verskuiwing van bogenoemde emigrante, moet die volgende oorweeg word:
-
Enige verhuising na ‘n nuwe huis en omgewing kan trauma vir ’n kind inhou.
-
Ouers is gewoonlik gefokus op die positiewe aspekte van die skuif en kyk dikwels die moontlike negatiewe effek wat die skuif op die kinders mag hê mis.
-
Sommige kinders pas makliker aan, maak makliker maats en word emosioneel minder beїnvloed deur die veranderde omgewing en sosiale interaksie. Dus veronderstel die ouers: die kinders sal “okey” wees.
-
Die simptome van sulke trauma in jong kinders, speel nie altyd onmiddelik uit nie, maar kan jare na die verhuising ’n effek op ’n kind se intergrasie met die gemeenskap in die nuwe omgewing hê.
-
Ouers ervaar dikwels vreemde “acting-out” gedrag, en heel dikwels word dit afgemaak as stoutigheid of aandag-soekery.
Wat kan Ouers doen om hul kinders te help aanpas in die nuwe land?
-
Wees bewus van die sosiale uitdagings wat die skuif vir die kind inhou.
-
Soms, wanneer die nuwe omgewing totaal vreemde sosiale omgewing en gemeenskap inhou, kort die kind nuwe klere of dalk ’n nuwe haarsny om in te pas. Die kind word gewoonlik beskou as die “nuwe kind”, of in sommige gevalle, sommer direk as vlugtelinge gebrandmerk, met ’n bepaalde stigma, wat ’n effek op die kind se selfbeeld kan hê. Die kind moet aangemoedig word om sosiale interaksie met maats in die nuwe omgewing te verwelkom, om vinniger in te skakel.
-
Ouers kan saam met hul kinders deur die omgewing, in die buurt, na die winkels en skole toe gaan om dit saam met die kind te ontdek. Hoe gouer hulle ’n nuwe routine en ritme kan aanleer saam met hul ouers, hoe meer gemaklik sal hul aanpas.
-
Ouers kan fyn oplet na die kleredrag en gedrag van die kinders in dieselfde ouderdomsgroep, en bewus wees van die kind se behoefte om soortgelyk te wees.
-
Neem die kinders in die buurt rond om die bure te ontmoet, en sodoende agter te kom of daar ander maats van dieselfde ouerdom is, waarmee hul kan maats maak.
-
Soms kan die tydsberekening van die verhuising ’n reuse verskil maak aan die kind se vermoë om in te pas. Dit maak baie sin om eerder die kind in die begin van ’n akademiese jaar by die nuwe skool in te skryf, as om in die middel van ’n kwartaal te probeer inpas by ’n reeds besige skooljaar.
-
Moedig die kind aan om met hul ouers te gesels om gereelde terugvoer te gee van hoe dit met hul gaan. Dalk saans aan etenstafel te vra hoe die dag verloop het en watter nuwe aktiwiteite die kind gedoen het, of nuwe maats wat gemaak is. Sodoende behoort mens redelik vinnig op te tel as die kind met een of ander aspek van die aanpassing sukkel.
-
Laat toe dat die kind kontak behou met ou maats, per whatsapp, video-gesprekke of telefoonoproepe, sodat die gevoel van verlies en verlange versag kan word.
Wat nie uit die oog verloor moet word nie, is dat alle kinders nie ewe maklik aanpas nie en, afhangende van die ouderdom van die kind en die ontwikkelingsfase van die kind, kan die trauma wat so ’n verhuising vir ’n bepaalde kind inhou, jare daarna in volwassenheid ernstige sielkundige probleme tot gevolg hê.
Wanneer hierdie vroeë tekens van emosionele ongemak nie opgetel word nie, en die kind se klagtes rondom die verlange na ou vriende of emosies soos hartseer en ongelukkigheid met ’n drukkie en bemoedigende woord probeer aangespreek word, kan die kind begin om angstigheid en ‘n depressiewe gemoed ervaar. Hierdie is tipies aspekte wat later ’n groot impak op die kind se grootword-jare en in die volwasse lewe kan hê.
Waarna moet ’n ouer oplet?
- Emosionele Uitbarstings – waar ‘n kind nie normaalweg “tantrums” gooi nie, en skielik emosioneel prikkelbaar is.
- Neerdrukkende gemoedstoestand – as die kind onverwags, sonder sigbare rede teneergedruk of hartseer voorkom.
- Ongewone tekens van angstigheid – as die kind skielik begin naels byt of eie hare uittrek.
- Sosiale onttrekking – waar ’n kind nie meer wil uitgaan, saam met maats gaan speel of selfs saam met die gesin ontspanningsaktiwiteite wil doen nie.
Fisiese tekens van emosionele ongemak:
- Hoofpyn of maagpyn
- Omgekrapte maag of skielike hardlywigheid
- Knaende moegheid, wil meer slaap as wat nodig is.
- Benoudheid of vinnige hartklop
- Oormatige sweet, klam hande
- Senuweeagtigheid, gespannenheid, skrik maklik.
Die Sosio-Ekonomiese en Politieke Konteks
Dis belangrik om te verstaan dat kinders wat saam met hul ouers na ’n vreemde land verhuis as gevolg van ekonomiese, kulturele, politieke of sosiologiese uitdagings in hul eie land, dikwels voel dat hulle uitstaan in die nuwe omgewing. Hulle verkry die etiket van buitestaander, en voel dikwels dat hulle nie aanvaar word as deel van die normale groep waarbinne hulle hulself bevind nie.
Wat ons as volwassenes baie keer buite rekening laat is die feit dat ons kinders nog besig is om hul eie identiteit te ontwikkel en die kind se oorspronklike bewustheid van die eie self, staan nou, in die nuwe omgewing, in kontras met dit wat hy van homself gedink het. Die kind se selfvertroue kan ’n knou kry, gevoelens van minderwaardigheid en onvergenoegdheid is algemeen in die wêreld van vlugteling-kinders. Baie kinders soek die fout by hulself, wanneer hulle nie maklik inpas in die nuwe omgewing nie, en dink dat hulle nie goed genoeg is nie.
Verhuising in die konteks van vlugteling-status beteken vir die hele gesin skielike afsnyding van familiebande, sosiale en kulturele konneksies. Daarom is dit belangrik om te onthou dat Ma en Pa, sowel as die kinders ’n mate van verlies en hartseer sal beleef, en dikwels smag na ’n sin van normaliteit, om gewoon te wees. Die inisiële spanning wat die verhuising voorafgaan, versoorsaak heelwat ongemak en dit het natuurlik ’n effek op die verhoudinge onderling in die gesin. Dit kan ‘n gevoel van isolasie en wanhoop versoorsaak.
Sosiale Identiteit
Vir baie kinders wat as vlugtelinge verhuis, raak die vraag rondom die vorming van ’n eie identiteit kompleks. Kinders, en veral tieners is nog besig om hul eie sosiale identiteit te vorm en te ontiwkkel. Die nuwe land se kultuur verskil dikwels van diè van hul land van herkoms, en derhalwe sukkel ’n jongmens dikwels om behoorlik te integreer in die nuwe kultuur, terwyl eie-kultuur en erfenis steeds deel van hul bewusyn bly. Dis derhalwe ’n uitdaging om hul geborge te laat voel binne-in hul nuwe lewensomstandigheid. Opeens voel hy of sy afgesny van eiesoortige kultuur en verwyderd van “my mense” wat agtergelaat is, terwyl hy of sy nog nie deel voel van die nuwe sosiale groep waarbinne hy of sy moet inpas nie. Dit bring verwarring, onsekerheid en ‘n gevoel van weerloosheid. Sulke jongmense is baie gevoelig vir diskriminasie en sosiale uitsluiting. Hul wil ten alle koste inpas en deel word van die nuwe sosiale omgewing, en probeer derhalwe hulself distansieer van hul land van oorsprong se kultuur/sosiale identiteit in ’n poging om makliker te integreer met die portuurgroep in die nuwe omgewing.
Jongmense wat as assielsoekers of vlugtelinge in ’n nuwe land gevestig word, probeer wegbreek van die sosiale status as immigrant wat dikwels negatiewe konnotasies inhou, en raak derhalwe dikwels betrokke in bedenklike bedrywighede in ’n poging om aanvaar te word deur die “in” kinders van die gemeenskap.
Die innerlike konflik wat ontstaan wanneer die jongmens homself probeer distansieer van die sosiale posisie as immigrant of vlugteling, het tot gevolg dat die jongmens sukkel om hom-of haarself te plaas, hoe hul hulself beskou in teenstelling met hoe die mense in die nuwe omgewing hul beskou. Die vraag: “wie is ek?” bly knaag en lei dikwels daartoe dat die jongmens hom- of haarself beskou as ’n slagoffer wat nêrens tuis hoort nie. Aanpassingsprobleme, ansgtigheid en depressie is dikwels die gevolg van hierdie innerlike konflik in ’n poging om behoorlik te integreer,
Die Hantering van Geestesgesondheid
Hoewel die gasheerland gewoonlik heelwat ondersteuning aan die vlugtelingsgroep bied, kleef daar dikwels ’n stigma aan mense met sielkundige probleme, veral in vlugtelings-groepe, en daarom vind ‘n mens dat vlugtelinge selde die vrymoedigheid het om vir hulp aan te klop as hulle, of hul kinders, met simptome soos depressie, angstigheid, ens. presenteer. Die vrees om nog meer aandag op die familie se vlugtelingstatus te trek, verhoed dikwels dat hierdie probleme intyds aangespreek word, wat natuurlik die trauma kan verdiep, en gevolglik sukkel hierdie kinders as volwassenes met ’n verskeidenheid van sielkundige probleme.
Vaardighede om hierdie trauma te hanteer
Dis ’n bekende feit dat kinders die inherente vermoë het om aan te pas by veranderende omstandighede, as deel van die normale ontwikkelingsproses. Interessant dus, dat kinders wat as vlugtelinge herverstig is in ’n ander land, ten spyte van bogenoemde uitdagings, merkwaardige veerkragtigheid toon. Wanneer die regte ondersteuning vanuit die gemeenskappe waar hul gevestig word, die kind se potensiaal laat ontwikkel en dit moontlik maak vir hierdie kinders om behoorlik te integreer, as volwaardige burgers van die land, kan ’n positiewe uitkoms verkry word.
Effektiewe Intervensies:
-
Trauma-ingeligte bystand
-
Kulturele sensitiwiteit
-
Gemeenskapsgebasseerde programme
-
Toegang tot goeie onderwys
-
Ondersteuning van geestesgesondheid inisiatiewe deur die staat
Hieroor kan ons ’n volgende keer meer in diepte gesels.
Opsommend:
Die geestesgesondheid van vlugteling-kinders/ assielsoekers is wêreldwyd ’n belangrike element van sosiale ontwikkeling, en behoort die nodige aandag te kry. Wanneer die sielkundige impak van die verskuiwing van kinders in hierdie konteks effektief aangespreek word, en langdurige intervensies implementeer word, kan hierdie kinders en jongmense beter funksioneer, integreer en floreer.
Hoewel ons menige verhale kan vertel van sulke kinders wat absoluut uitgestyg het en sukses behaal het as volwassenes, en dit getuig van die veerkragtigheid van die menslike veggees en oorlewingsdrang, bly dit ons almal se kollektiewe verantwoordelikheid om te verseker dat hulle die nodige ondersteuning en professionele hulp tot hul beskikking het, om hul volle potensiaal te bereik. Wanneer ons in die geestesgesondheid van hierdie vlugteling-kinders belê, skep ons ’n meer verdraagsame, inklusiewe wêreld.
